Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS Sondag 13 MEI 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

Aan al die moeders wat vandag luister, aan julle 'n baie gelukkige Moedersdag.

IN DIE NUUS VANDAG

NASIONALE AMATEURRADIODAG 16 JUNIE 2012

ANACAPA HOOGVLUGBALLON STYG TOT NABY 112 000 VOET

RADIO MYANMAR STEURINGS OP 40 METER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en
ander belangrike en interessante items.

NASIONALE AMATEURRADIODAG 16 JUNIE 2012

Die Suid-Afrikaanse Radioliga het 16 Junie as die Nasionale Amateurradiodag uitgesonder ter viering van amateurradio as 'n nasionale hulpbron en sy diversiteit as die opwindendste van alle wetenskaplike stokperdjies.

Die doel is om amateurradio aan die publiek bekend te stel deur uitstallings en demonstrasies van die verskillende aspekte wat amateurradio groot en pret maak, en daaraan deel te neem, te vertoon. Daar word beplan dat die aktiwiteite vanaf 09:00 - 14:00 sal plaasvind..

Individuele deelname.

Alle radioamateurs behoort deel te neem. Hier is 'n paar idees wat jy as 'n individu kan doen:

Sit jou stasie op in 'n park naby jou met bome om antennas aan te hang. 'n Eenvoudige dipool of omgekeerde V sal reg wees vir 20 en 40 meter. Jy mag miskien nie met die wêreld kan praat nie, maar jy sal met stasies in Suider-Afrika kan kommunikeer. En as die band oop is, wie weet met wie sal jy kan praat? Kry familielede om te help om brosjures oor amateurradio en knopies met 'n amateurradioslagspreuk op, wat van die SARL beskikbaar is, uit te deel.

Diegene wat by die huis vassit, vir watter rede ookal, kan nog steeds deelneem deur op die lug met demo-stasies te praat.

Klubdeelname.

Stel 'n uitstalling by 'n besige winkelsentrum of groot winkel soos Incredible Connection, 'n kampeerwinkel of 'n groot supermark of in 'n park op.

Op die lug aktiwiteite op Nasionale Amateurradiodag sluit die Jeugdagnaelloop in.

Ondersteunende aktiwiteite.

09:00 - 09:55 Jongmense praat oor amateurradio.
10:00 - 12:00 Jeugdagnaelloop.
12:00 - 12:45 Senior Amateurs onthou.

Jongmense praat oor amateurradio is 'n vooraf opgeneemde program met jong mense wat praat oor hoe hulle in amateurradio beland het en wat dit vir hulle beteken. As jy onder 25 is, stuur 'n e-pos met jou kontakbesonderhede na artoday@sarl.org.za om deel te neem.

Jeugdagnaelloop.
Dit is 'n prettige aktiwiteit om Jeugdag te vier en kontak tussen die jong radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder.

Roep "CQ Jeugdag". Daar is baie pryse wat deur deelnemers gewen kan word.

Senior Amateurs Onthou is 'n voorafopgeneemde program met senior amateurs deel hul ondervinding en buitengewone gebeure in amateurradio. Audiolêers sal beskikbaar wees aan klubs om op HF en BHF uit te saai. Om te deel stuur jou kontakbesonderhede aan artoday@sarl.org.za.

Meer besonderhede oor al die Nasionale amateurradioaktiwiteite sal gedurende volgende week aan lede en klubs gestuur word en sal beskikbaar wees op www.sarl.org.za.

ANACAPA HOOGVLUGBALLON STYG TOT NABY 112 000 VOET

Ons is nie seker of dit 'n nuwe wêreldhoogterekord vir 'n amateurradio toegeruste hoë hoogte ballon is nie, maar lede van die Anacapa Nabyruimte Ontdekkingsklub in Kalifornië se Anacapa skool vier die onlangse sukses van hul tweede nabyruimtesonde wat 'n hoogte van byna 112 000 voet bereik het. Amateur Radio Newsline se Don Carlson, KQ6FM, het die res van die storie:

“5 - 4 - 3 - 2 - 1 – Gaan!" Dis van 'n groep tieners van nabyruimte avonturiers wat 'n hoë hoogte ballon loslaat wat binnekort bo Kalifornië se sentrale kus sal styg en dan na die ooste van die staat se sentrale vallei sweef.

Genoem Anacapa Amateur Groot Hoogte Ballon 2, 'n studentespan van die Anacapa skool het twee loonvragkapsules aan 'n weerballon op Saterdag 5 Mei vasgemaak. Toegerus met 'n GPS, atmosferiese sensors, hoë-definisie video en stil kameras, 'n televisiesender en 'n Geigerteller, het die loonvrag intyddata, video en fotos tydens sy styging uitgestuur.

Anacapa Amateur Groot Hoogte Ballon 2 is geheel en al deur studente ontwerp en gebou. 'n Groot projek vir jeugdag hierdie jaar.

RADIO MYANMAR STEURINGS OP 40 METER

Die Suid-Afrikaanse Radioliga HAMNET berig dat Radio Myanmar onwettig uitsaai op 7,110 MHz. Die stasie gebruik volle draer AM van 15:30 UTC elke dag en steur op die noodkommunikasiefrekwensie.

Stappe word gedoen om 'n formele beswaar in te dien, maar dit neem tyd en die regte prosedures moet gevolg word. Intussen het Suid-Afrika se Hamnet noodkommunikasie reaksiegroep 'n amptelike klag direk na Radio Myanmar gestuur en versoek dat hulle van frekwensie verander.

MUSEUMDAG

Nasionale Museumdag vind elke jaar in Mei plaas.

Ten behoewe hiervan sal die Zululandse amateurradioklub as ZS5ZLB op Sondag 20 Mei 2012 vanaf die Nongqayi Fort in Eshowe opereer. Elke stasie wat kontak maak, sal 'n spesiale QSL-kaart met 'n foto van die fort waarin die museum nou gehuisves is, ontvang. Indien u kontak bewerkstellig met ZS5ZLB, stuur vir hulle 'n QSL-kaart. U behoort hulle hoofsaaklik op die 40 meter band te vind.

Die Zululandse klub gaan amateurradio demonstreer aan besoekers van die geleentheid.

EKSAMENNOMMERS VIR DIE RADIOAMATEUREKSAMEN OP DIE WEB

Alle sterkte aan die 168 kandidate vir die radioamateureksamen op Donderdag 24 Mei. Kandidate kan hulle eksamennommers sowel as waar die eksamen afgelê moet word vanaf die web verkry. Besoek www.amateurradio.org.za/RAE.htm of gaan na die skakel op die SARL se tuisblad www.sarl.org.za.

Die eksamen begin om 19:00 en kandidate het drie uur om die twee afdelings van die vraestelle te beantwoord. Kandidate moet voor 18:30 by die eksamenlokale aanmeld en moet hulle ID-boekies of ander identifikasiebewys saamneem.

LOGBOEK VAN DIE WÊRELD REGISTRASIE

Indien u sukkel om op die LOTW te registreer en indien die slakkepas posopsie u nie geval nie, dan sal Geoff Levey, ZS6GRL, u graag met registrasie help.

Al wat u hoef te doen, is om 'n geskandeerde kopie van u lisensie en een of ander vorm van identifikasie soos byv. die eerste bladsy van u ID-boek of rybewys aan Geoff te stuur. U behoort na ongeveer vier dae by LOTW geregistreer te wees.

Maak asb. van hierdie aanbod gebruik en stuur u inligting aan hfmanager@sarl.org.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is maar sal toeneem soos wat die grootste sonvlek in jare, 1476, oor die sigbare oppervlakte van die son beweeg. Daar is 'n goeie kans vir 'n uitbarsting vanaf hierdie sonvlek.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 69.

Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer met 10 m net 'n kortkop agter.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 Mei - Logstate vir ZS3-naelloop moet in wees na ZS3-Naelloop, Posbus 1049, Kathu, 8446 of per e-pos aan zs3nc@qsl.net.
12/13 Mei - AWA buis-QSO-partytjie.
19 Mei - 14:00 PEARS AJV by die Italiaanse Klub, Charlo, Port Elizabeth voorafgegaan deur 'n kattebakverkoping en 'n bring en braai na die AJV.

20 Mei – Nasionale Museumdag: Zululand radioamateurs saai uit vanaf Nongqayi Fort.
28 Mei - Logstate vir die AWA Buis QSO-party moet in wees na andyzs6ady@vodamail.co.za of stuur dit na AWA of Southern Africa, Posbus 12320, Benoryn, 1504.
16 Junie - Nasionale Amateurradiodag 09:00 tot 16:00.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7082, 7205 en 17 570KHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoekwww.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Johann, ZU1JM en George, ZS6NE, en ook deur laasgenoemde geredigeer.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003